JDI skakel oor na ‘n volgende rat tydens tweede Nampo Kaap

  • 06 Oktober 2019
  • 1824
  •  
  •  
  •  



Die tweede weergawe van Nampo Kaap, met die tema: ‘Winde van vooruitgang’, het vanaf 4 tot 6 September in Bredasdorp, plaasgevind. Duisende besoekers, om presies te wees 20 150, het oor die drie dae na Bredasdorppark in die Overberg gestroom vir die landbouskou wat vanjaar 24% meer besoekers as in 2018 gelok het.

JDI het vanjaar ook die maatskappy se tentoonstelling na die volgende vlak geneem met ‘n wye verskeidenheid John Deere, JCB en STHIL-toerusting. Die kundige bestuurspan en vriendelike personeel het oor die duur van die skou klante bygestaan en die tegniese aspekte en werking van die toerusting in detail met feesgangers bespreek. 

‘n Interessante item wat by die JDI-standplaas te siene was, was een van die heel eerste John Deere omswaai handploeë. Die John Deere klere- en speelgoedreeks in JDI se nuwe vertoon- en kuierarea het ook besonders goeie aftrek onder skougangers geniet terwyl besoekers ook een oog op die rugby kon hou waar die Springbokke vir Japan die stryd aangesê het tydens die opwarmingswedstryd vir vanjaar se Rugby Wêreldbeker.   

JDI was ook ‘n trotse borg van die immergewilde gespreksforum, Nasie in Gesprek, wat tydens die drie dae vyf knellende kwessies onder die loep gehad het. Tydens dié paneelbesprekings wat lewendig gebeeldsend is, het denkleiers van verskillende industrieë hulle insig en ervaring oor die betrokke onderwerpe gedeel. Die sessies het gefokus op: die rol van die private en openbare sektore om ‘n groeiende ekonomie in Suid-Afrika te skep; transformasie suksesstories in die Wes-Kaap; die graanbedryf met ‘n fokus op kontantgewasse; sekuriteit in die landelike gebiede; en die wynbedryf. Om die lewendige uitsendings weer te kyk of meer oor elk te lees, besoek www.nasieingesprek.co.za/nampokaap2019.

Dat Nampo Kaap hier is om te bly is ‘n gegewe. Ons kuier volgende jaar weer saam in die Overberg. Selfde plek, selfde tyd. Sien jou in 2020.







Verwante Artikels

Verander Taal

English