John Deere Implemente staan sterk na 60 jaar se goeie diens

  • 21 Oktober 2019
  • 2010
  •  ProAgri
  •  ProAgri
  •  news




JDI het gegroei van die een tak in Swellendam na die ses takke wat daar vandag is. In 1983 is die JDI-tak in Bredasdorp oopgemaak en Hankey het in 2003 gevolg, Cradock in 2008, Addo in 2010 en George in 2016. Hulle sien ook baie daarna uit om hulle sewende tak volgende jaar op Kirkwood oop te maak. Die maatskappy, wat as ՚n familiesaak begin het, het so gegroei dat daar in 2012 besluit is om 50% van die aandele aan Senwes te verkoop. Dit gee JDI ՚n mededingende voorsprong en hulle kan ՚n wyer reeks produkte aanhou vir beter dienslewering aan boere.

Tydens NAMPO Kaap het JDI die nuwe reeks John Deere M4000 selfaangedrewe spuite bekendgestel.

Driaan Schwartz, verkoopsbestuurder, vertel dat daar drie spuite in dié reeks is:

• Die M4025 is die kleinste in die reeks met ՚n tenk van 2 500 liter en ՚n enjin van 149 kW.

• Die M4030 se tenk hou 3 000 liter en sy enjin lewer 183 kW.

• Die grootste model is die M4040, wat spog met ՚n tenk van 4 000 liter en ՚n vierklepdieselenjin wat 205 kW lewer. Dit kan met die turbo-aanjaer na 215 kW opgestoot word.

Al vier wiele van al die modelle in die reeks word hidrostaties aangedryf. Die boer kan kies tussen ՚n staalbalk van 30 meter of ՚n balk van 36 meter met koolstofveselarms.

Al die modelle in die M4000-reeks spog met die nuutste tegnologie wat oorvleueling en oorgeslaande gedeeltes uitskakel. Dit sorg dat alle plante bespuit word, beskerm plante teen oortoediening en help die boer om insetkoste te verlaag. Die kombinasie van die John Deere ExactApplyTM en die vernuftige draai-aanpassingstelsel beheer die toediening oor die totale lengte van die spuitarms en verseker die mees doeltreffende spuitstoftoediening tydens alle bewegings van die spuit.

Die ExactApplyTM-stelsel pas die lewering aan by die spuit se spoed en die boer kan vanuit die kajuit sproeikoppe ruil om te verseker dat hy deurgaans presies die regte druppelgrootte vir die taak gebruik.

Die vierde generasie geïntegreerde beheersentrum is gebruikersvriendelik en maak dit maklik om die spuit te beheer. Boere het dikwels ՚n baie beperkte venstertydperk waarin hulle moet spuit en klaarkry. Die M4000-spuitreeks se lugvere vergemaklik die rit en maak dit moontlik om teen ՚n hoër spoed te spuit. Die spuitbalk is ook so ontwerp dat dit die minimum afwyking in beweging verseker.

Dit verooorsaak ՚n meer egalige toediening met minder slytasie aan die werkende dele van die spuit. Die hoёr grondhoogte van die spuit en balk verminder die risiko om die balk of die plante te beskadig. Jason Tomlinson, bestuurder van JDI se presisieboerdery-afdeling, sê saam met die spuit se tegnologie vergemaklik die gevorderde JD Link-program ook boere se taak. Al die spuite kom met ՚n 5-jaar-aansluiting by JD Link. Hiermee word daar deurlopend gekommunikeer tussen die spuit en JDI se beheersentrum in Swellendam. Die spuit stuur kodes na die beheersentrum waar die personeel die data ontvang en verwerk.

Indien daar iets verkeerd gaan met die spuit, word een van drie kleurkodes aangestuur:

• Blou dui aan dat daar iets is waarna gekyk moet word, maar dit is nie dringend nie.

• Oranje sê daar is iets wat dringend aandag verg.

• Rooi wys gevaar.

Sodra die beheerkamer ՚n rooi kode ontvang, stuur die stelsel die ligging van die spuit asook wat verkeerd is na die naaste werktuigkundige en hy haas hom dan na die spuit om dit reg te maak. Die hele proses verloop outomaties sonder dat die boer enigiets hoef te doen of enige oproepe hoef te maak.

JDI se leuse is: “Altyd gereed om te dien.”

Daarom is hulle naverkopediens deel van die trots van die maatskappy. Elke tak is ten volle toegerus met ՚n verkoopspan en ՚n werkswinkel om die beste raad en dienste aan kliёnte te bied. Die werktuigkundiges gaan na die boer toe om sy toerusting op die plaas te diens. Met behulp van die JD Link-stelsel was daar al gevalle waar die werktuigkundiges van probleme geweet het nog voordat die boer dit besef het.

“Daar is altyd iemand beskikbaar en bereid om te help,” sê Driaan.

“Boerdery wag immers nie vir naweke of vakansiedae om verby te gaan nie.” Hierdie diens is deel van die suksesresep wat JDI gebring het waar hulle vandag is.

JDI se mense is ingenome met die ondersteuning wat hulle by NAMPO Kaap ontvang het. Afgesien van die heelwat trekkers en ander werktuie wat hulle daar verkoop het, is dit sommer net lekker om met boere te kuier, te luister wat hulle behoeftes is en te wys wat JDI die boer kan bied. Behalwe vir John Deere, is JDI ook die agente vir Stihl, LEMKEN, JCB en Strautman in hulle omgewing.

Kontak JDI se hoofkantoor in Swellendam by 028-514-2700, of stuur ‘n e-pos aan emilius.tomlinson@jdimplemente.net. Om enige van die ander vyf takke se besonderhede te kry, besoek die webwerf by www.jdimplemente.co.za.






Verwante Artikels

Verander Taal

English