Dis moeilik om sin te maak van die wêreld deur Rian Joubert

  • 10 Desember 2020
  • 2252
  •  
  •  
  •  nuus



Dis nie baie moeilik om dit raak te sien nie. As mens net kyk hoe Zoom en Teams virtuele vergaderings soos ‘n veldbrand versprei het en hoe van die huis af werk skielik ‘n norm geword het...

Vanuit ‘n Suid-Afrikaanse perspektief is dit moeilik om Covid te bespreek en nie te praat oor die finansiële impak wat dit op Suid-Afrika het nie. Die debat oor lewensverlies teenoor die gesondheid van die ekonomie is nie ‘n debat waarin daar ‘n wenner gaan wees nie, maar wat ongetwyfeld waar is, is dat hierdie pandemie nie op ‘n slegter tyd vir Suid-Afrika kon kom nie.

Die prentjie wat mnr Tito Mboweni (Minister van Finansies) vir ons geskilder het tydens sy middeltermynbegroting, was vreesaanjaend. Suid-Afrikaners is oorbelas en belastingbetalers se geloof in die staat om fondse sinvol te gebruik, is besig om vinnig te kwyn. Suid-Afrika se skuldlas is ‘n hoofpyn wat nie sal weggaan nie, want die staat se uitgawes is te veel, hopeloos te veel, en die voorgestelde bevriessing van salarisse en lone is ontmoet met ‘n baie koue stilte. Daar is moeilike gesprekke wat vir president Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni voorlê soos wat die politiek rondom hierdie kwessies uitspeel. Zwelinzima Vavi (Sekretaris-Generaal van SAFTU) het reeds aangedui dat werkers nie bereid is om te betaal vir die staat se swak bestuur en bedrog nie. Cosatu het ook reeds aangedui dat hulle groot protesaksies beplan sou mnr Mbowei sy wens kry.

Daar word tussen die politieke ontleders bespiegel of president Ramaphosa genoeg steun binne die ANC het om sy hervorming deur te voer. Maar slegs tyd sal leer.

Die frustrerende karaktereienskap van die Ramaphosa regering is dat sodra jy begin moedeloos word, dan kom daar goeie nuus deur! Dis konstant ‘n dans van twee treë vorentoe en twee treë terug. Die onlangse inhegtenisname van die individue wat by die VBS Bank-skandaal betrokke was, is weer stilgemaak deur die vlaag van plaasmoorde wat die regering skaars bereid was om te erken. Andre de Ruyter se aanstelling by Eskom was ‘n taktiese meesterstuk, maar die onvermoë van die regering om ‘n raamwerk te skep waarbinne die privaatsektor groei kan genereer, was baie duidelik te sien in die mees onlangse werkloosheidsyfers. Twee treë vorentoe, twee treë terug.

Ek dink die ou Engelse gesegde is gepas: “Something’s got to give”. As ons ‘n beter toekoms wil na laat vir ons nageslagte, sal daar drastiese moeilike stappe geneem moet word.

Hierdie dinge kan so maklik ‘n knop op jou maag veroorsaak. Maar ek vra myself altyd af – wat kan ek verander? Wat kan ek doen wat daartoe kan bydra dat Suid-Afrika ‘n beter land word? Daar is wonderlike mense in hierdie land! En dis nog steeds een van die grootste voorregte wat die Here vir ons gegee het -  om ‘n paar stukke hout op mekaar te sit en te kan braai. Om in die bosveld te wees terwyl die sonbesie in jou ore skree. Om deur Stellenbosch en Franschoek te ry en te voel of jy in Europa is. Of om oor die asemrowende Drankensberge te ry tot by die groen heuwels van Kwazulu-Natal. Die koue see van die Weskus en die wind wat deur jou blaaie sny. Die plat van die Vrystaat, die rooi grond van Noordwes, die betowering van Tsitsikamma, die eerlike opregtheid van die Karoo of die grasvelde van Mpumalanga.

Daar is nie nog so land nie.






Verwante Artikels

Verander Taal

English