Die Finansiële Direkteur se boodskap

  • 03 Julie 2018
  • 2435
  •  
  •  
  •  



Meeste mense leef tans met baie vrae en uitdagings in hulle lewe. Lewenskoste is hoër as wat dit ooit was en tans voel dit vir my of die petrolprys elke maand styg! Skoolgeld, mediese onkoste, tandarts, nuwe bande, elektrisiteit……..en daai klein onvoorsiene jakkalsies wat die wingerd verwoes!

Ons is gestres, ons is negatief en meeste van alles………..ons is bang.

JDI het tans omtrent 100 werknemers in sy ses takke. Dis 100 individue wat elkeen met die dinge hierbo genoem, moet sukkel. Ons as ‘n maatskappy is nie geïsoleer in ons eie vakuum nie.  JDI beskou homself as deel van die boeregemeenskap. As dit droog is en daar is nie reën nie, dan voel ons dit ook.

As jy hierdie nuusbrief lees dan beteken dit dat jy in een of ander vorm besigheid met ons gedoen het. Ons as JDI span wil graag dankie sê vir die voorreg om steeds deel van jou besigheid te wees. Dit bly ons fokus om kwaliteit diens aan al ons klante te lewer. Ons het op 30 April ons jaareinde gehad met al die vooraadtellings en ouditverwante navrae wat daarmee gepaardgaan. 

Hierdie is nie ‘n tyd wat geken word as ‘n tyd van eksponensiële groei nie, maar baie keer moet mens die storm trotseer.  Swaar tye bring mense bymekaar en as mens in staat is om staande te bly tydens die storm, dan is daar baie keer ‘n reënboog wat lê en wag.

Ten spyte van redelike goeie reën vir die Kaap, is die droogte steeds ‘n item op die agenda vir die Oos-Kaap sowel as die Suid-Kaap. Reën in die Swellendam en Bredasdorp areas het baie later as vorige jare gekom en verskeie boere was geforseer om in droë grond te plant. Die Hankeydam se vlakke bly steeds baie laag en trekkerverkope in die Addo area het vir die laaste 12 maande drasties gedaal.

In terme van vooruitsigte is ons baie opgewonde oor Nampo Kaap wat vir die eerste keer in Bredasdorp gehou gaan word. Die Nampo Skou wat jaarliks in die Noordwes gehou word, is die grootste skou in Suid-Afrika. Die feit dat Nampo nou deel is van die skou hier in die Suid-Kaap is werklik iets om na uit te sien. 

Die nuwe John Deere boordtrekker is baie gewild. Ons is trots daarop om nou te kan sê dat ons deel is van die vrugtebedryf. Terwyl ons nog altyd in die Hankey en Addo area teenwoordig was, het ons nou eers die regte produk waarby klante kan baat. John Deere word geken aan sy groot, kragtige trekkers wat groot planters kan trek, maar boordmodel is ‘n bewys dat John Deere ook in die klein trekkermark ‘n impak kan maak.

So, terwyl alles nie maanskyn en rose om ons is nie, weet ons dis nie ‘n verskoning om agteroor te sit nie. Met al die kennis en tegnologie wat ons het, kan ons nie reën maak nie – ons moet geloof en vertroue hê. Dis hoe ons as JDI ook die uitdagings hanteer wat voorlê, ons doen alles wat ons denkbaar kan en ons maak seker dat ons nooit ons standaarde laat val nie – vir die res vertrou ons net op die Here.
 







Verwante Artikels

Verander Taal

English