Van Rian Joubert se tafel

  • 17 Augustus 2020
  • 1314
  •  
  •  
  •  



Maskers, handsanitasie, sosiale afstandhouding, grendeltyd .... ons woordeskat en selfs ons manier van lewe het verander.

En is dit nie ‘n ongelooflike deurmekaar tyd nie?

Die regulasies van die grendeltyd was deurmekaar en partykeer onkonsekwent. Die onderwys 'n heen-en-weer tennisspel. Die rookdebakel. Die debat oor lewensverlies teenoor die hervatting van die ekonomie. Die polisie en weermag se brutaliteit. Wie is in beheer? President Ramaphosa? Minister Dlamini-Zuma? Suid-Afrika se skuld is afgegradeer. Is die virus afkomstig van ‘n vark of van ‘n vlermuis? Het China die virus in ‘n laboratorium gekweek? George Floyd is in Amerika vermoor. ‘Black lives Matter’. Daar is uiteindelik iemand van VBS bank gearresteer. En Donald Trump maak steeds almal kwaad.

Ek weet nie of ek moet lag of moet huil nie.
Die eerste ding wat ons moet sê is dat ten tye van die skryf van hierdie artikel, het meer as 400 000 mense reeds hulle lewens verloor. Dit is belangrik dat ons met die families van hierdie slagoffers simpatiseer en hulle dra in tye wat baie moeilik is. Om ‘n geliefde te verloor en jy kan nie eers behoorlik afskeid neem nie, is hartverskeurend.

Die ekonomie is in ‘n krisis. Ons kan nie daarby verbykom nie - ons is in ‘n baie moeilike posisie. Selfs voor die pandemie was ons op ‘n plek waar ons oor ‘n finansiële afgrond geloer het. Wat die volle impak van die pandemie op Suid-Afrika gaan wees, gaan ons eers oor die volgende paar maande sien. Al hoe meer ekonome begin praat dat ‘n reddingsboei van die IMF ‘n groot waarskynlikheid is.
Sakevertrou in die landbousektor het volgens opnames in Mei gedaal tot die laagste punt sedert 2009.

Die Suid-Afrikaanse publiek se besteebare inkomste het sterk gedaal en dit sal ook ‘n direkte impak op ons boere hê.

In die Overberg lyk die voorlopige tekens van ‘n goeie oes positief. Ons is bewus dat daar huidig baie oesskuld is as gevolg van die laaste twee jaar se droogte. Die Oos-Kaapse boere wat sitrus uitvoer, het weer ‘n baie goeie seisoen op hande. Daar was gerugte van probleme by die hawens, maar daardie probleme is ook uitgesorteer. Uitvoermarkte is tans nog oop vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte. Watertekorte is egter steeds iets wat ‘n probleem bly, spesifiek in die Hankey Vallei met die Kouga Dam, waarvan die vlak op ongeveer 8% staan. Die Oos-Kaap graanboere gaan sterk aan. Cradock-area bly een van die mees stabiele areas in die JDI netwerk. Alhoewel landbou wel geaffekteer is deur die pandemie, kan ons boere steeds voortgaan om besigheid te doen.

Wat hou die toekoms in? Ek weet nie. Niemand weet nie. Maar meeste mense erken dat ons lewe nie weer dieselfde gaan wees nie.

Waar los dit vir my en jou?

Ons was al by menigte kruispaaie in hierdie lewe. Van dit het die wêreld omgekeer. Ander het beteken dat ons moet nuut dink oor die lewe, hoe ek my geld spandeer en wat belangrik is.

Fokus op wat jy kan verander. Vandag. Dit help nie om kwaad te word vir die regering wat dit verkeerd doen en wat dat verkeerd doen nie…jy kan dit nie verander nie. Leiers gaan harder geoordeel word. Hulle sal verseker eendag verantwoordelik gehou word vir hulle besluite.

Wat is in jou hand? Miskien dink jy jy het net twee vissies en vyf broodjies. Dis meer as genoeg. Jou positiewe gesindheid, jou glimlag elke dag, jou hoop, jou vrede, jou vriendelikheid. Wees aanpasbaar, wees bereid om die ekstra myl te stap. Luister na goeie raad van wyse mense. Bly weg van mense wat altyd vir ander die skuld gee. Wees ‘n probleemoplosser, nie ‘n klakous nie!








Verwante Artikels

Verander Taal

English