Uit die Finansiële Direkteur se pen:

  • 12 Maart 2018
  • 3007
  •  
  •  
  •  jdi




As mens dink aan groot nuusgebeure oor die jare dan dink jy onwikkeleurig aan die einde van  die tweede wêreldoorlog, die einde van apartheid, die einde van isolasie, die einde van Saddam Hussein se verdrukking, Robert Mugabe en Jacob Zuma…

Die laaste tien jaar sal sekerlik onthou word as die donkerste in ons kort demokrasie!

Die jaar het inderdaad op ‘n meer positiewe noot begin… maar die kommentaar vanuit alle oorde is dat die partytjie nou verby is – daar gaan nou skouer aan die wiel gesit moet word. 

Ongelukkig wys die ekonomie nog die letsels van die Zuma-termyn. Besigheidsvertroue het (tot voor Ramaphosa se verkiesing) tot ‘n rekord laagtepunt gedaal. Dit was nie alleenlik as gevolg van die regering se doen en late nie, maar ook die moontlikheid van verdere afgraderings, die ineenstorting van Steinhoff en die droogte in die Wes-Kaap het alles bygedra tot baie negatiewe sentiment wat in die mark geheers het.

Die droogte wat die landbousektor raak was veral kommerwekkend. Kaapstad was meeste in die nuus maar die droogte in die Oos-Kaap was in baie opsigte net so erg soos in die Wes-Kaap. Die Kougadam was op ‘n vlak van 7,7% teen die einde van Januarie 2018. Die Oos-Kaap, wat gekenmerk word aan sy sagtevrugteproduksie, is afhanklik van die Kougadam se water en sou die reserwes opdroog, kan dit lei tot ‘n swakker as gemiddelde oes en in sekere gevalle selfs ‘n totale misoes.

Waarop dit alles neerkom is dat daar in die laaste 12 maande ongelooflik baie druk op die boerderygemeenskap was. Die goeie oeste wat in 2017 gerealiseer het, het die graanpryse afwaarts gedruk.  Terwyl die noordelike dele van Suid-Afrika gespog het met rekordoeste, het die laat reën in die Overberg omgewing veroorsaak dat die meeste boere tevrede moes wees met ‘n gemiddelde oes. Daar word gerapporteer dat daar wêreldwyd ‘n surplus van koring is en Amerika het ook onlangs aangekondig dat hulle area van verbouing van koring ook in 2018 gaan vergroot. Dit, saam met die sterker rand, het verdere druk op kommoditeitspryse geplaas.  Melkprodusente het dit ook nie maklik gehad in die laaste tyd nie. Hoër lewenskoste het die besteebare inkomste drasties ingeperk en natuurlike het insetkoste ook kommerwekkend verhoog.

Ons wat in die trekkerbedryf werk, het ook die effek van die ekonomie gevoel. Dit bly steeds ‘n uitdaging om ‘n kwaliteit produk by die produsent te kry teen ‘n kompeterende prys. JDI is wel opgewonde oor die bemarking van die nuwe John Deere boordtrekker. Die eerste besending is reeds bestel en behoort in Mei 2018 in die land aan te kom. Hierdie is ‘n poging van John Deere om ‘n sektor te betree waarin ons voorheen nie baie kompeterend was nie. Die boordmodel is spesifiek ontwerp vir die vrugtebedryf en die kajuitopsie gee uitvoerders die geleentheid om steeds aan die uitvoerstandaarde te voldoen.

John Deere het ook onlangs hulle nuwe 700-reeks stroper bekendgestel. Terwyl die 600-reeks reeds 'n deurbraak vir John Deere was, beloof die 700-reeks om die grense net verder te verskuif. Die tegnologie wat gebruik word kombineer die beste van die 600-reeks met die nuutste deurbrake in presisieboerdery. Die stroper is gemaak om beter werksverrigting te hê sonder om die boer harder te laat werk. As mens aan die stuur van die 700-reeks sit, kan mens vinnig agterkom dat dit nie ‘n implement is vir speletjies speel nie maar dat dit is vir boere wat ernstig is oor hulle boerdery. Enige inligting waaraan jy moontlik kan dink is te vinde in die 700-reeks se arsenaal. 

JDI het ook onlangs ‘n kontrak met Orthman gesluit om ‘n verspreider van hulle implemente te word. Hierdie ooreenkoms help JDI om die verskeidenheid van opsies aan die boer te verbeter om hom in staat te stel om die beste implement vir sy boerdery te kies.

Ter afsluiting, JDI wil graag deel wees van die herbou van ons mooi land. Die huidige kontroversiële Amerikaanse president het die sê-ding gehad: “Let’s make America great again”. Hierdie kan ook ‘n ‘great’ land wees. JDI glo dat daar baie uitdagings is, maar dat ons daardie uitdagings kan oorkom as ons saamwerk en op die Here vertrou. Dit gaan nie maklik wees nie. Dit gaan nie altyd lekker wees nie. Maar dit is die pad wat ons moet loop as ons die reënboognasie tot sy reg wil sien kom.





Verwante Artikels

Verander Taal

English