Perspektief is ‘n wonderlike ding deur Rian Joubert

  • 06 Februarie 2020
  • 2287
  •  Rian Joubert
  •  
  •  



So kom ons kyk terug…

Op 2 Februarie 1990, kondig president FW de Klerk die afskaffing van apartheid en die nuwe rigting van die regering aan. Dit word wyd aanvaar dat ‘n bloedbad gaan plaasvind en duisende Suid-Afrikaners vlug landuit, dit was baie onseker tye.

Terwyl Suid-Afrika besig was met ‘n oorgang vanaf ‘n apartheidsregering na ‘n nuwe reënboognasie, was die grootste tragedie besig om homself in Afrika af te speel. Die Rwanda etniese moorde – bykans 800 000 Tutsi's is vermoor sonder dat die internasionale gemeenskap ‘n vinger gelig het.

Die Exxon Valdez olietenker was op 24 Maart 1989 op pad na sy bestemming toe dit ‘n seerif in Alaska tref. Daar word gerapporteer dat ongeveer 41 miljoen liter olie in die see gestort is. Die skade wat aan die natuur aangerig is, is onmeetbaar.
Op 17 Junie 1972 was daar ‘n inbraak by een van Amerika se regeringsgeboue. Die gevolg van die inbraak was dat daar bewyse vorendag gekom het dat president Nixon betrokke was by knoeiery en dit het gelei tot sy bedanking as Amerikaanse president op 9 August 1974.

Op 3 September 1939 verklaar Frankryk en Brittanje oorlog teen Duitsland. Die Tweede Wêreldoorlog. Die Wêreldoorlog Statistiek webtuiste dui aan dat daar in totaal 72,768,900 mense gesterf het (Wêreldoorlog 2-statistieke). Dit sluit in die 5,9 miljoen Jode wat op die mees onmenslike wyse vermoor is.

Ons almal raak opgewonde oor Swart Vrydag aan die einde van die jaar, maar ons vergeet van 24 Oktober 1929, toe Swart Donderdag plaasgevind het. Die Wall Street-aandelebeurs het inmekaar getuimel en wêreldmarkte het in duie gestort. Die Groot Depressie…hongersnood, armoede, werkloosheid – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

Laastens, tussen 1347 en 1351 het die plaag (Swart Dood) regoor Europa uitgebreek. Daar word geraam dat 60% van Europa se populasie uitgewis is – ongeveer 50 miljoen mense.

So, wat probeer ons vir mekaar sê? Byt vas, dis maar hoe die lewe is? Dat ons eintlik nie weet wat swaarkry is nie?

Dit is moeilike tye in ons wonderlike land.

Op hierdie stadium van Suid-Afrika se geskiedenis is daar niemand wat gespaar word nie. Almal kry swaar. 

Ons kan ‘n vloed van negatiwiteit bespreek oor waar Suid-Afrika hom tans bevind – die grondkwessie, Eskom se probleme, swak diens by munispaliteite, die werkloosheidsyfer, plaasmoorde, moorde op die Kaapse vlakte, miljoene wat steeds sonder krag, behuising of waterdienste sit, politici wat die publiek beroof!  Is daar ‘n toekoms in Suid-Afrika? Wat gaan ek doen omtrent my kinders se opvoeding?

Ons het nie baie nodig om ons oor die muur van negatiwiteit te kry nie.

Wat probeer ons vir mekaar sê? Ons het baie probleme maar ten minste leef ons nie tydens die Tweede Wêreldoorlog nie?

Kom ons deel ‘n paar basiese waarhede met mekaar:
• Daar staan in Prediker 1:9: Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is niks nuuts onder die son nie. Ons is nie die eerste nie en ons sal ook nie die laaste mense wees wat deur moeilike tye gaan nie. Dis ‘n ewige waarheid! Swaar en moeilike tye is ingeskryf in die patroon van die seisoene van die lewe. Maar wat ons leer uit swaarkry is dat dit die vermoë het om die mooi uit sekere mense te bring, dink aan Stacey Brewer en haar Spark School Network, aan die Ndlovu Omgeegroep en die ongelooflike impak wat hulle gemaak het deur die Ndlovu Jeugkoor. Dink aan die Gary Kirsten Stigting wat gedetermineerd is om seker te maak dat daar veilige sportinfrastruktuur is in ons informele nedersettings, waar daar geen hoop of geld is nie. Wat van die Jakes Gerwel Tegniese Skool – ‘n paar individue wat gedroom het dat daar ‘n beter toekoms moet wees vir die mense wat grootword in Bonnievale. 

• Daar is rede vir dankbaarheid, selfs in hierdie tyd. Byvoorbeeld, nuwe ontwikkeling in tegnologie wat ons lewe soveel makliker maak. ‘n Plaaswerker op ‘n afgeleë plek kan warm water hê deur middel van ‘n sonkrag geiser. Hy kan water opgaar deur effektiewe gebruik van sy dak en iets soos ‘n JoJo tenk. Die ontdekking van antibiotika het miljoene mense se lewe gered en verleng. Dit word in die media wyd verkondig dat mense al hoe langer gaan begin leef… dit staan reg teenoor die lewensverwagting wat ongeveer 40 jaar was vir die mense wat in die middeleeue geleef het. Nie baie lank terug nie moes jy ‘n sentrale bel om oproepe te maak – nou kan jy deur middel van ‘n selfoon op enige oomblik enige plek in die wêreld bel en op daardie selfde selfoon kan jy enige inligting opsoek wat jy wil hê of selfs rigting en afstand bepaal! Klere en kos is meer beskikbaar as ooit tevore. Jy kan vandag iets deur Amazon uit Amerika bestel en dit kan binne ‘n week op jou voorstoep afgelaai word. As jy in London, Engeland is dan kan jy binne twee ure in Parys, Frankryk (491 km) wees as jy die Eurostar vat, onderdeur die see!

• Dis nie lande wat swaarkry nie – dis individue, mense, vriende, familie en dit mag ons nooit vergeet nie. Dis goed om perspektief te kry, maar vir die persoon wat ouers verloor het in ‘n plaasaanval, of ‘n vrou wat moet saamleef met ‘n verkragting, ‘n familie wat 'n kind verloor het as gevolg van geweld op die Kaapse vlakte. Dit is hulle perspektief en op een of ander wyse moet hulle daardie realiteit verwerk, ongeag van hoe tegnologie hulle lewe vergemaklik.

In hierdie tyd het jy ‘n keuse. Jy kan kwaad, bitter en neerslagtig wees, of jy kan kies om na jou lewe te kyk en die voorregte raak te sien. Jy kan rondom jou kyk en die mense om jou sien wat swaarder as jy kry. Jy kan jou arm om iemand sit en saam met hulle huil oor die hartseer in hulle lewe. Dis wat perspektief doen – dit help my om die fokus af te haal van my omstandighede sodat ek die mense om my raaksien. Selfs al daag jy net vandag op by die werk met ‘n glimlag en die hoop dat, al is vandag nie ‘n goeie dag nie, die son môre weer sal skyn.

Ek sluit af met dit wat vir my perspektief gee – “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly”.







Verwante Artikels

Verander Taal

English