Kersboodskap vanaf Rian Joubert

  • 15 Desember 2021
  • 1150
  •  
  •  
  •  



Toe die pandemie in 2020 uitgebreek het, was daar ʼn onderliggende, ongesproke hoop dat hierdie ʼn vinnig verbygaande krisis sou wees. Nou, bykans 20 maande later, kan ons almal saamstem dat ons nooit sal teruggaan na waar ons was nie. Die lewe het vir altyd verander.

Ons het vriende en familie verloor, ons het ons manier van lewe verloor, ons het ons vryheid verloor, ons het ons sekerheid verloor. Winkel toe gaan moet nou strategiese beplan word. En dit is ʼn frustrasie om heeltyd ʼn masker oor jou gesig te hê. Brille wasem toe, dit voel kompleet of jy versmoor en wat jy ook al doen – saniteer!

Desembervakansie wat vir baie mense ʼn tyd van rus was, het met die nuutgevonde Covid-vlaag eerder ʼn tyd van spanning geword. 

Dit is moeilik om al hierdie goed te verwerk en te hanteer. Wat doen ‘n mens met die druk en spanning?

Hebreërs 12:27 sê: Die woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat die onwankelbare dinge kan bly.

Met Kersfees wat om die draai is, word ons herinner aan die dinge wat werklik belangrik is. Wat is die dinge waaraan jy vashou? Is die dinge waarin jy glo werklik verteenwoordigend van jou fondasie?

Is rus vir jou ʼn maandlange vakansie by Hartenbos of rus jy in die wete dat Jesus volkome in beheer is? Is jou sekerheid in jou bankbalans en jou werk of is jou sekerheid op die waarheid geanker dat jou skatte nie op aarde is nie, maar in die hemel?

Menslike goed is wankelbaar en onbetroubaar. Dit het die Covid-pandemie duidelik vir ons kom uitwys. Onthou: dit wat op Jesus gebou is, is onwankelbaar soos wat die skrifgedeelte sê.

Ek bid dat jy hierdie Kersgety sal besef wat werklik vir jou belangrik is.

As gelowiges het Jesus gesê ons is nooit alleen nie.

Mag jy rus hierin vind.

Geseënde Kersfees






Verwante Artikels

Verander Taal

English