Te midde van ‘n proses van oorgang of verandering deur Rian Joubert

  • 21 Junie 2021
  • 1528
  •  
  •  
  •  



Dis nie regtig hoe ‘n mens die seisoen waarin ons is, kan beskryf nie. Wat dit nog ‘n groter uitdaging maak is dat terwyl die wêreld besig is om planne in plek te sit om die nuwe normaal te trotseer, voel dit nogal asof Afrika konstant besig is om homself in die voet te skiet.

Wat ‘n oorgangsperiode veral ‘n uitdaging maak, is dat jy nie kan omdraai nie! Of dalk moet ons sê die koste gekoppel aan omdraai is net te groot. Vat byvoorbeeld wat die Covid-pandemie gedoen het aan ‘online sales’ of ‘webvergaderings’. Die kat is uit die sak. Ek twyfel of ‘shopping malls’ gaan verdwyn – maar die wêreld se oë het nou oopgegaan vir die gemak van aanlynverkope en dit sal in die toekoms net aanhou groei.

Vergaderings wat maande vooruit geskeduleer moes gewees het as gevolg van afstandbeperkings, kan nou vinnig oor ‘n laptop of konferensietoerusting gedoen word.
Die gevoel wat mens kry is dat ons besig is om na ‘n volgende era te beweeg. Dink maar aan die impak wat 9/11 op die wêreld gehad het. Dit was ‘n merker in geskiedenis. Dieselfde kan gesê word van Covid-19. Die lewe gaan verander as gevolg van besluite wat die pandemie op ons afforseer. Dink maar aan hoe elkeen van ons lewens verander het toe die internet begin het – of selfone.

Oorgangsfases is verseker opwindend maar daar kom ook saam met dit baie fustrasies. Dit beteken baie keer dat jy die veilige hawe van dit wat werk moet verlaat na iets wat in teorie beter is….. maar jy is nog nie daar nie! En in die proses van oorgang……. van reis na die nuwe normaal, gaan jy ontdek dat sekere veranderinge en aanpassings doodeenvoudig nie werk nie. Toe die pandemie uitgebreek het was meeste maatskappye se werknemers geforseer om van hulle huise af te werk. Tot meeste se verbasing het besigheid bly voortbestaan, mense het gewerk en toe begin maatskappye dink aan die kostebesparing van kantore as werkers permanent van die huis af werk.

Maar na ‘n paar maande van leef met ‘stay-at-home’- werknemers, het maatskappybestuurders krake begin sien. Ewe skielik het aspekte wat nooit belangrik was nie, ‘n rol begin speel. Sosiale interaksie, emosionele welstand van werknemers en kreatiewe energie wat ontbreek. Werknemers wat baie opgewonde was om van die huis af te werk het ontdek dat dit nie so aangenaam is as jou stresvolle werksomgewing in jou persoonlike lewe intrek nie.  

Wat ‘n oorgangsperiode wel nodig maak is dat meeste mense die wete het dat ons nie kan aanhou om te funksioneer soos ons voorheen het nie. Daar is moeilike vrae oor armoede en die bewaring van ons omgewing wat nie opgelos kan word deur bloot die ou modelle aan te pas nie. Daar is ‘n hele nuwe werkswyse nodig. Dis een van die redes hoekom daar skielik ‘n kollig op Elon Musk se elektriese motor, die Tesla, geplaas is. Meeste groot motorvervaardigers is besig om aksieplanne in plek te sit om oor te skakel na elektriese aandrywing. Die wêreld weet – verandering is nodig.

Ons is tans op daardie plek. Daar is baie opwinding oor nuwe tegnologie, nuwe ontwikkelings en geleenthede wat onstaan as gevolg van die plek waar ons is. Maar in ‘n tyd soos hierdie moet elkeen vrede maak dat daar frustrasies en onsekerheid gaan wees. En dit mag dalk nog so wees vir ‘n baie lang tyd. Elke generasie het uitdagings wat hy moet trotseer en elke generasie sal kan getuig van die goed en die sleg wat uit die moeilike omstandighede gekom het.
Dit glo ek gaan so vir ons ook wees!






Verwante Artikels

Verander Taal

English