Boodskap van die FD

  • 02 Oktober 2017
  • 2358
  •  Rian Joubert
  •  
  •  jdi



 
Die een ding wat ons oor hierdie jaar kan sê, is dat die reëlboek by die deur uit is -  en meng dalk so bietjie onstabiliteit by die pot, dan kry jy wat ons noem – die Suid-Afrikaanse ekonomie.
 
In die eerste paar maande het ons gesien hoe Pravin Gordhan uit sy amp onthef word, ’n mislukte stem van geen vertroue in President Zuma, die vlaag van afgraderings wat Suid-Afrika getref het en natuurlik ook die Gupta-skandaal, wat tans soos ‘n donker wolk oor sekere  ANC hooggeplaastes hang. Die politieke speletjies gaan ook al hoe meer pertinent word soos wat die ANC se presidentsverkiesing nader kom.
 
Om die sepie af te rond, het die rand verbasend goed sy grond gestaan, ons het in ’n tegniese resessie verval en die JSE se indeks van alle aandele het rekordvlakke bereik …. die bitter en die soet! 
 
Hierdie skommelinge het groot onstabiliteit in die Suid-Afrikaanse ekonomie veroorsaak, wat die boerderygemeenskap. soos enige ander industrie, ook geaffekteer het.
 
Die effek daarvan is meer intens ervaar as gevolg van die droogte wat die Wes-Kaap getref het. Die laat seisoen het baie van die boere senuweeagtig gelaat, veral omdat die Wes-Kaap die afgelope sewe jaar uitstekende oeste gehad het. Dit het ook JDI se verkope in George en Bredasdorp negatief geaffekteer. 
 
Die bietjie laatreën, wat ’n reeks koue fronte meegebring het, het baie boere se oeste gered. Maar baie deskundiges is van mening dat selfs hierdie reën nie voldoende is om waterbronne aan te vul nie. Damvlakke regoor die Wes-Kaap word tans op 18% geraam.
 
Weervoorspellers is onseker oor wat die volgende paar maande inhou. Alhoewel temperature besig is om te styg, is goeie reëns in die volgende paar maande nie buite die kwessie nie.
 
Dis ’n voorreg om deel te wees van die landboubedryf. Dit het egter sy verrassings en uitdagings (waarvan die natuur ’n groot deel is). As maatskappy glo ons dat een van die maniere waarmee ons hierdie uitdagings kan aanspreek, is deur ons Presisie-afdeling. Presisietegnologie verskaf die toerusting en kennis aan die boer wat hom in staat stel om met minder insette, meer uitsette te genereer. Deel van ons bemarking van dié afdeling is die onlangse verkryging van ’n ten volle toegeruste Presisiewa. Die wa help die bemarkers om aan die wyer publiek die voordele van presisie te demonstreer op ’n visuele en tasbare manier.
 
Die politieke en natuurlike uitdagings het die uitbreidings wat JDI in 2016/2017 gedoen het soveel meer beklemtoon, want dit het verseker dat JDI nie grond verloor teenoor mededingers nie. Hiervan is die Bredasdorp werkswinkel ’n teksboekvoorbeeld, waarop ons baie trots is.
 
Dis ook om bogenoemde redes wat JDI sy produkreeks uitgebrei het na sekere grondverskuiwingstoerusting. JDI het in die afgelope maand 10 nuwe JCB’s verwelkom (vier 2DX’e, vier 3CX’e en twee Load-alls).
 
JDI het ook onlangs sy nuwe klerewa bekend gestel, wat pryk met JDI se nuwe handelsmerk en 'n reënboog van klere en kleure. Die wa stel JDI in staat om die klere op ’n baie makliker en meer effektiewe manier te bemark.
 
Daar is ook groot opgewondenheid oor die beplande uitbreiding na Addo, met Senwes wat reeds besig is om die planne in plek te sit om die bouwerk te begin. Die langverwagte John Deere boordmodel word ook binne die volgende paar maande verwag. Daar was ’n paar terugslae en ’n aantal uitdagings, maar JDI is steeds oortuig dat die nuwe produk ’n groot impak gaan maak in die Oos-Kaap.
 
Ten spyte van die moeilike omstandighede, het JDI steeds kop bo water gehou en as gevolg van die harde werk van elke individu, is ons reg om die volgende drie kwartale met dieselfde ywer aan te vat.
 





Verwante Artikels

Verander Taal

English